ZU1LR ?
Tuis Gasteboek

 

 

Johannes Petrus Hendrikus (Johan) Le Roux is gebore op en het grootgeword op ‘n klein vissersdorpie aan die Kaap se Suidkus genaamd Gansbaai.  Hy is die oudste seun van Jan en Lenie Le Roux.  Pa Jan het al die jare by die Dorpsraad en later die Munisipaliteit van Gansbaai gewerk.  Nou op Gansbaai het almal byname en sommer gou-gou was hy dan ook Jan Raad.

SKOOLDAE

Kinderjare op Gansbaai was vet pret.  Sorgelose vrye kinderdae op die platteland.  Kleilat, Knoppies gooi, Plaatskuit ry en baie meer was nie onbekend.  Onderwysers soos Lammie Fourie, Duif de Villiers en Jan Fourie (PYP) was verantwoordelik om kennis oor te dra aan die jong Gansbaaiers.  Baie van my tydgenote het natuurlik nie belang gestel in skool werk nie, en visvang was in hul murg en bloed.

Gedurende standerd 5 word ek, Wilfred Chivell en Louis Groenewald (Witman) vriende.  Hier neem die lewe ‘n ander wending aan en kort voor lank “bestuur” ons Wilfred se pa se melkery buite die dorp.  Ek verbreed my kennis met plaaslewe.  Jare van baie-baie pret volg.  Perdry, koeie melk, lusern sny, kalwers medisyne ingee en ry was aan die orde van die dag.  Bees, vark, hoender en kalkoen slag was niks snaaks nie.  Net na vier in die oggend was opstaantyd, dan plaastoe, melk bottel, terug dorp toe vir skool.  Na skool herhaal die ritueel hom.  Saterdae en vakandsie sny ons lusern, gras, patatranke of wat ook al beskikbaar is vir beesvoer op Stanford, die buurdorp.

Gansbaai se skool gaan net tot standerd 7 en ek besluit om na HTS Drostdy op Worcester te gaan.  Hier word ek onder andere bloodgestel aan baie sport geleenthede en neem dan ook deel aan rugby, toutrek, atletiek en skyfskiet.  Veral die rugby en toutrek jare was onthou jare.  Later speel ek ook vir Gansbaai en Hermanus se dorpspanne rugby.

WERK

Na skool besluit ek om Lugmag toe te gaan.  Soos dit maar gaan loop ek my vas in rompslomp van die staatsdiens en ek begin my militêre loopbaan te 6 Suid-Afrikaans Infanterie Bataljon te Grahamstad.  My papier kom deur en ek word oorgeplaas na die lugmag.  Sommer gou-gou word ek uitgeplaas na Lugmagbasis Ysterplaat. 

Die aanvanklike plan was om net te studeer deur die lugmag en dan te bedank en die privaatsektor te gaan opsoek.  Hierdie het nooit gerealiseer nie en ek is steeds in die Suid Afrikaanse Lugmag.  Miskien het ek nog nie klaar gestudeer nie.  My spesialis rigting is boord radar.  Dit is nou al die radar uitrusting soos gebruik in die Lugmag vliegtuie.  In die begin jare was die bos-oorlog aan die gang en ek was baie weg van die huis af.  Aangesien ons op die grens ‘n verskeie aantal vliegtuie gehad het was ek dan ook bevoegd om op die meeste van die lugmag se vliegtuie te werk.  Die lugmag bied my ook baie geleendhede en ek gaan maak ‘n draai in Europa, bring ‘n tyd deur op Antartika en kry ook die geleentheid om by Buvett eiland uit te kom.

Ek ontmoet en trou die liewe vrou Alma Beyers, ‘n Pretorianer van geboorte.  Ons het twee kinders Johannes en Roné.  Johannes het die roepsein van ZR1RF.  Aan die ander twee werk ek nog.

 

 

 

Stuur pos aan [email protected] met vrae of kommentaar oor hierdie WebBlad.
Kopiereg © 2003 ZU1LR
Opgedateer: Mei 18, 2003