|
|
|
|
ZS3BLUE Deur Olivier, ZS1OLI
Vrydagoggend dou voor dag het die Landrover (uitgerus met 'n dik tou) en die Colt bakkie vergesel van die karavaan (ateljee) die lang tog aangepak. Nadat koffie op Piekenierskloof gedrink is, het die span die Knersvlakte en Boesmanland aangedurf. Gesien waar Malcom (ZS1LK) se oorsprong is (Nieuwoudville). Een opmerking was dat ons nou weet waarom "Malcom is soos hy is". Op Brandvlei is die laaste geselsies per selfoon met die gades in die "beskawing" gesels en toe het die tog van 120km grondpad na Verneukpan begin. Na ongeveer 80km het dit liggies begin reën. Die reuk van die reën het my en Koos laat terugdink aan ons kinderdae in Namibië en die Karoo onderskeidelik. Ongeveer 4nm het ons die eienaar Nico Louw se plaaswerf binnegery en toe het ons die voorreg gehad om mnr Blou te ontmoet. ‘n Netjiese man met goedversorgde naels en geklee in blou. Die hele naweek was hy geklee in verskeie blou uitrustings vandaar die naam mnr Blou. Mnr Blou het aan ons twee keuses gestel. Of op die pan kamp opslaan of by die lapa half op die kant van die pan. Die lapa bestaan uit 'n area onder dak met koue storte, spoel toilette, en ‘n kombuis die besluit het eenparig op laasgenoemde geval.
Saterdagoggend, na ‘n nag van ruwe balke saag (ZS1SM en kie), het ons die rigstralers opgerig en teen 12h00 kon almal begin rustig verkeer. Intussen het Koos die res van Suid Afrika vermaak met sy koddige sêgoed op die 40 en 80m. Koos het die namiddag die veelbesproke "hexbeam" opgerig. Nogal 'n indrukwekkende stukkie werk. Lyk soos 'n omgekeerde sambreel, hoenderhok, wasgoeddraad ens, maar hy werk nogal goed. Die res van die naweek is daar ge-eet, gesels, geslaap en as van die manne verveeld geraak het is daar oor die radios gesels. Koos het hom gate uit geniet. Hy is binne die ateljee sitgemaak met 'n paar oorfone op die ore met die opdrag;" maak Suid Afrika wakker" en het hy hulle wakker gemaak en wakker gehou. Koos is seker een van die min amateurs in SA wat kan spog dat hy met SA amateurs “pile ups” op 40 en 80m gewerk het.
Die hoogtepunt van die naweek was Saterdag om 16h00 die wedren tussen die Landrover en die Colt bakkie net om die argument van watter voertuig die beste is vir eens en altyd uit die weg te ruim. Met die wegspring het Koos egter ook met sy karavaan aangetree. Julle kan natuurlik raai wie het gewen. Ja, die karavaan met 'n kort disselboom en die Colt en Landrover gesamentlik tweede.
Daardie aand is daar met groot seremonie 'n tafel, met tafeldoek, glasborde en wynglase gedek. Nodeloos om te sê dat almal hulle trommeldik ge-eet het en dat die twee bottels rooiwyn drie te min was. Die SARL en Suid Afrika se politieke probleme is sommer op die koop toe ook daar en dan opgelos. Maandag oggend was dit oppaktyd en teen 11h00 was ons gereed vir die terugtog. Nadat die laaste foto's geneem is het ons die lang terugtog aangepak. Teen 21h00 was ons almal weer tuis. Moeg, maar tevrede. Graag wil ek hierdie geleentheid gebruik om namens die groep julle te bedank vir die lekker gesels oor die radio. Sonder julle sou hierdie uitstappie nie die klinkende sukses gewees het as wat dit wel was nie. Hierdie is natuurlik nie die laaste sien van ZS3BLUE nie aangesien hierdie sending volgende jaar gedurende April herhaal gaan word. Julle het seker in die media gesien dat 'n groep Suid Afrikaners, ter herdenking van Sir Campbell se poging 75 jaar gelede, 'n poging gaan aanwend om die wereld landspoed rekord op twee wiele te slaan. Die blou span sal daar wees!!!! |
Webmeester:
Deon, ZS1G
|