|
|
|
|
Gebruik die rekenaarkragbron vir amateurradio doeleindes Deur Henry Chamberlain, ZS1AAZ, en Riaan Lategan, ZR1RL
Die voordeel van die rekenaarkragbron is dat dit goedkoop is, en ook lig, en maklik bekombaar. Die 200W rekenaarkragbron wat ek omgeskep het, verskaf +5V teen 20A, en 12V teen 8A, -12V teen 0,5A en -5V teen 0,5A. Die belangrikste spanning vir die rekenaar is die +5V spanning, en daar word dan ook moeite gedoen om dit baie stabiel te hou. Maar dit is nie wat ons as amateurs wil hê nie, ons is meer geïnteresseerd in die 12V spanning.
Die hoeveelheid energie in 'n vierkantige puls is in verhouding met die hoogte van die puls en ook die wydte daarvan. In die kragbron is die pulshoogte konstant, maar die pulswydte word verstel.
Die kragbron werk natuurlik van 230V wisselstroom. Waar dit in die kragbron inkom, gaan dit eers deur 'n laag deurlaat filter om te keer dat geraas nie teruggevoer word in die kragnetwerk nie. Dan gaan dit deur 'n volgolf gelykrigter waar dit na gelykspanning omgeskep word. Hoogspanning kapasitore help om die gelykspanning bietjie gladder te maak. Die volgende stap is om die 300V gelykspanning weer na wisselspanning om te skep, maar hierdie keer teen 'n baie hoër frekwens, tipies tussen 25 en 100 kilohertz. Transformators kan baie kleiner gemaak word as hulle op hoë frekwens werk as op 50Hz. In 'n 200 Watt rekenaarkragbron is die kragtransformator ongeveer 33 by 33 by 33 millimeter groot. Twee hoogspanning transistors word gebruik om die 300V deur die primêr van die kragtransformator te skakel. Hulle word beheer deur die TL494 wat die beheerseine deur 'n klein transformator stuur. As u na die blokdiagram kyk, sal u sien dat daar volledige isolasie is van die 230V kant na die laagspanning kant. Aan die sekondêre kant van die kragtransformator word die wisselstroom weer na gelykstroom gelyk gerig en deur 'n induktor en kapasitore gefilter. Hierdie spanning word deur die TL494 gemonitor sodat dit konstant gehou word deur die pulswydte te verander. Wanneer meer stroom getrek word, word die pulswydte wyer, en andersom. Ek het nie die blokdiagram volledig geteken om al die spannings te toon wat die kragbron verskaf nie, slegs een spanning word gewys, in hierdie geval, die +5V spanning. As ons nou die kragbron wil aanpas vir 13,8 Volt, moet ons die stroombaan verander sodat nie die 5V spanning gemonitor word nie, maar die 12V spanning. Riaan het gevind dat in sy kragbron word pen 2 van die TL494 gebruik om die 5V spanning te monitor. In die kragbron wat ek verander het, het ek gevind dat pen 1 hiervoor gebruik word. Ek kon dit sien omdat daar 'n weerstand gekoppel was tussen pen 1 en die +5V lyn.
Hierdie betrokke kragbron was voor modifikasie veronderstel om 8A teen 12V te verskaf, tydens die toets het dit 13,66V teen 10,8A gelewer. Die 12V waaiertjie het bietjie geraas teen die verhoogde spanning en ek het dit toe aan die 5V spanningsslyn gekoppel wat sonder die regulering 6,2V is. Die tyd sal leer of die verkoeling voldoende is. Dit was eenvoudig om twee terminale en 'n aan- en afskakelaar aan te bring om 'n bruikbare kragbron van 13,8V teen 10 Ampere te bewerkstellig. Dit is nie noodwendig so dat alle kragbronne presies dieselfde stroombaan sal gebruik nie, en as u die omskepping self aanpak, sal u dalk bietjie speurwerk moet doen om die verskille agter te kom, maar ek hoop hierdie artikel sal u help om die rekenaarkragbron beter te verstaan. Moenie ou rekenaarkragbronne weggooi nie! |
Webmeester:
Deon, ZS1G
|