|
|
|
|
‘n Toepassing vir die operasionele versterker: Deur Henry Chamberlain ZS1AAZ. Die operasionele versterker is ‘n veelsydige boublokkie wat vir talle doeleindes gebruik kan word. Deur dit op ‘n sekere manier te verbind, kan dit as ‘n “comparator” aangewend word. Ek ken nie die Afrikaanse naam vir comparator nie, dalk kan een van ons lesers help. Dit beteken dat twee spannings vergelyk kan word en dan kan iets geskakel word afhangende van die relatiewe grootte van die twee spannings. Kom ons gebruik die bekende 741 versterker as ‘n “comparator” om ‘n lig te skakel. Neem die vier weerstande, R1, R9, R2, R3 en R4. Hulle vorm die klassieke Wheatstone brug. Wanneer die R9 presies in die middel is, sal die spanning op punt A die helfte van die kragbronspanning wees, en as die sensor se waarde 4k7 is, sal die spanning op B ook die helfte van die kragbronspanning wees. Die 741 sien nou twee spannings wat dieselfde is. As een van die spannings effens styg of daal, sal die 741 reageer en die uitset sal of laag wees, naby aan 0V, of hoog, naby aan +12V. Enigiets wat aan die 741 gekoppel is, sal dan daardeur geskakel word. In die kringdiagram hieronder, stel ek ‘n voorbeeld op van ‘n stelsel wat ligte outomaties aan- of afskakel wanneer dit donker of lig word. Die sensor kan dan ‘n ligsensitiewe weerstand of LDR wees. Daar is van hulle wat so 400 Ohm meet in helder lig, en so 40 kiloOhm in die donker.
Die omgekeerde vind nou plaas wanneer dit donker word. Die sensor se weerstand gaan op, die spanning op punt B word laag, die 741 se uitset gaan hoog en skakel die FET aan. Lig gaan deur die ligdiode van die MOC3041 en dit sneller die diac wat op sy beurt die Triac aanskakel wat krag deur die ligte laat vloei. Die funksie van R5 en R6 is om ‘n bietjie positiewe terugvoering aan die 741 te gee sodat dit vinnig heen en weer skakel. Deur R6 groter te maak sal die stelsel minder sensitief wees. R9 word gebruik om die punt waar geskakel word, te stel. Let op dat die lae spanning deel van die stroombaan op 12V werk en geisoleer is van die 230V wisselspanning deur die MOC3041 wat die sein dmv lig oordra na die Triac. Die BTA16 kan 16 Ampere skakel, maar moet op ‘n hitteput gemonteer word om te verseker dat dit nie warm word nie. Die ligsensor kan vervang word met ‘n verskeidenheid ander sensors om ander apparate soos verwarmers of motors te skakel. Iets interessant: Wheatstone was ook die uitvinder van die konsertina. Die kringdiagram: |
Webmeester:
Deon, ZS1G
|