|
|
|
|
Luidspreker menger Deur Henry Chamberlain, ZS1AAZHierdie projek is begin om die aantal luidsprekers in my hok te verminder. Ek het 'n advertensie in QST gesien vir 'n apparaat wat die klank van al die radios in jou hok meng en deur een luidspreker stuur, en op dié manier 'n biejie ruimte maak vir ander goed. Dit sou egter te duur wees om in te voer en boonop het ek gedink dit sal makliker wees om dit te maak. Dit bestaan uit 'n ses kanaal menger, wat gedoen word deur die bekende 741 operasionele versterker, gevolg deur die bekende Baxandall toonbeheer stroombaan, weer met die 741, en daarna 'n klankversterker met genoeg krag om 'n luidspreker goed aan te dryf. Hier word die TBA2006 gebruik wat tot agt Watt kan verskaf met 'n 24V kragbron. Nie een van my amateurvriende was besonder beïndruk met die idee om die klank van al die mense se radios deur een luidspreker te hoor nie! Nogtans het ek voortgegaan en die projek voltooi en ek was aangenaam verras met die moontlikhede wat hierdie kassie bied.
Ek het die toonbeheer stroombaan aangepas om meer effektief te wees op stemfrekwense, en dit blyk gerieflik te wees as ek klank deur een van my radios hoor wat effens dof is, kan ek die hoë klanke opdraai en sodoende makliker hoor wat aangaan. Deur die 560pF kapasitor te vervang met 'n 3n3 kapasitor, werk dit beter op stemfrekwense. My kragbron verskaf 16V wat genoeg is om ongeveer 2,5Watt na 'n agt Ohm luidspreker te stuur, oorgenoeg vir 'n mens se hok. Meer krag kan verskaf word as die kragbronspanning opgestoot word, maar die maksimum is 24V. Die TDA2006 het beskerming teen oorverhitting en oorlading en volgens die spesifikasies het dit ook lae vervorming. 'n Mens kan hierdie projek maklik op strokiesbord bou, of self 'n bord daarvoor ontwerp, maar aangesien ek hierdie projek ook as 'n wetenskapklub projek wil gebruik, het ek 'n aantal van die borde kommersieël laat maak en dit is beskikbaar as iemand belangstel. Dit is 'n enkelkant bord, geplateer en met die komponentwaardes aan die komponentkant gedruk, wat dit makliker maak om te bou. Ek het die bordjie en kragbron in 'n ou modemkassie ingebou met drie kontroles op die voorpaneel, een vir bas, een vir hoë note en een vir volume. Op die agterkant is ses sokke vir klank van ses verskillende radios en een vir die luidspreker. Daar is 10 Ohm weerstande oor elke sok waar klank inkom.
|
Webmeester:
Deon, ZS1G
|