Geskiedenis
Tuis English Lidmaatskap

 

'n Spesiale dankie aan Abe Basson, ZS1OZ vir sy jare lange bymekaar maak van BARK se geskiedenis.  Baie dankie vir die groot diens wat jy vir ons klub verrig.

Abe, ZS1OZ, geskiedskrywer van BARK.  Abe was ook voorheen die redakteur van CQ Boland asook ‘n morsekode toetser.

 

Hier volg enkele inligting oor BARK en van die klub se baanbrekers.  'n CD met alle beskikbare inligting oor BARK se geskiedenis kan bekom word vanaf Henry, ZS1AAZ.  Sien grepe uit die Geskiedenis CD onderaan hierdie bladsy.

 

Die Boland Amateurradio Klub is gestig gedurende Junie 1948 met die naam Tak Boland.  Op 25 Mei 1996 het die klub se naam verander na Boland Amateurradio Klub.

 

FRANS BYLEVELD

Ek het 'n rukkie gelede by OK Frans Byleveld ZS1RF gaan besoek aflê.  Frans was een van die stigterslede van Tak Boland in 1948.  Ons het so 'n bietjie oor die geskiedenis van amateurradio in die Boland gesels en Frans het my daarop gewys dat die hoof rede vir Tak Boland se ontstaan was die soeke na 'n tuiste vir Afrikaanssprekende Radioamateurs in die Boland. 

PAUL MALHERBE

Paul Malherbe ZS1JU, ‘n stigterslid van die ou Tak Boland van die SARL in 1948  was 53 jaar ‘n aktiewe lid van die Boland Amateurradio Klub, is op Maandag 5 Februarie 2001 in Somerset-Wes oorlede.  Hy was 70 jaar oud en die eer kom hom toe dat hy, sover ons kan vasstel, al 53 jaar van sy amateurskap lid was van die SARL.  Hy was tot met sy dood nog op die lug vanaf Somerset-Wes en by tye ook as VK1JU vanaf Perth, Australië, waar hy soms lang rukke gewoon het.

Paul, wat ook by die ouer garde bekend was as Jong Uil, sal onthou word as ‘n joviale amateur wat altyd die belange van sy vereniging met groot getrouheid gedien en help bevorder het.  Met sy vriendelikheid en hoflikheid in die omgang en oor die lug het hy vir elkeen wat met hom te doen gekry het ‘n mooi voorbeeld gestel.  Hy was ‘n Bolandse en Suid-Afrikaanse amateur op wie ‘n mens te alle tye kon trots wees.

Daar was tye in die ontwikkeling van amateurradio in die Boland toe Paul as leier uitstaande diens gelewer het.  Hy het onder meer twintigtig jaar lank (vanaf 1963 tot 1983) ononderbroke op die bestuur van Tak Boland gedien en was ‘n leidende figuur met die koms van 2 meter kommunikasie in 1973.  Toe die eens beroemde eerste Tak Boland Herhaler in 1974 op Groenlandberg by Elgin geïnstalleer is (sommige beweer dat dit die eerste 2 meter herhaler in Suid-Afrika was), was hy ‘n lid van die ekspedisie van 9 man wat onder leiding van Dan de Vries, ZS1DF die berg op is om hierdie belangrike werk te gaan doen.  In CQ Boland van Oktober 1977 het die redakteur, Hentie Lombaard, ZS1LH soos volg geskryf:  "‘n Splinternuwe herhaler-antenne is deur OK Paul Malherbe van Grabouw aan Tak Boland geskenk.  Langs hierdie weg wil ons vir Paul baie graag van harte bedank vir hierdie gebaar."

Paul was ‘n man wat veral in sy jonger jare met hart en siel aan Tak Boland se bedrywighede deelgeneem het.  Dit spreek byvoorbeeld duidelik uit sy deelname aan Tak Boland se beroemde “Moonlight Ralies” van die vroeë sewentigerjare wat in die omgewings van Montagu, Uniondale, Calitzdorp, Oudtshoorn en Knysna van stapel gestuur is.

Bolandse amateurs, veral die 92 aanwesiges, onthou ook nog baie goed die rekordbrekende vergadering wat ons op 27 Februarie 1993 op Paul se plaas “Carmel” tussen die vrugtebome van Grabouw gehou het.  Hieruit blyk maar net weer sy meelewendheid en gasvryheid.

Ons wat hom goed geken het, weet ook wat dit vir hom beteken het toe hy in 1998 met die viering van ons 50ste bestaansjaar op Worcester teenwoordig kon wees en spesiaal as stigterslid vereer is.

 

DAN DE VRIES ZS1DF:  ‘n HULDEBLYK

Deur Abe, ZS1OZ

Dan de Vries, wat op Saterdag 27 September op 82-jarige leeftyd  in Somerset-Wes oorlede is,  was een van die grootste baanbrekers in die geskiedenis van Bolandse amateurradio.  En hy het tot op die laaste nog ‘n wakker belangstelling in die doen en late van ons Klub gehad.  Toe ek hom twee dae voor sy dood gebel het in verband met sy toekennings, was hy nog helder van gees en het hy my die besonderhede sommer so uit die vuis meegedeel.   Hy was ‘n amateur van vele prestasies  -  ‘n man wat al “die vader van 2 meter in die Boland” genoem is, een van die suksesvolste voorsitters in ons moeilike groeijare en daarby die enigste Bolandse amateur wat ook die amp van President van die SARL beklee het.  ‘n Gesiene man wat vir ons oor vele jare baie beteken het.

     Die volgende is die uitstaande mylpale in sy amateur-loopbaan:

Ampte beklee.  Dan het in 1957 by die SARL aangesluit en die volgende jaar die roepsein ZS1DF verwerf.  In 1963 het hy en ‘n ander groot naam in ons geskiedenis, Hans ZS1WZ, saam lede van die Bestuur van Tak Boland geword.  Mettertyd het hierdie twee “karperde” ook voorsitters van die Tak geword  -  eers Hans en daarna Dan.  Dan het hierdie amp gedurende die periode 1969 tot 1971 beklee. In 1971 is hy as voorsitter opgevolg deur nog ‘n baie bekende veteraan, Malcolm ZS1LK.  Dan het egter voortgegaan om sy leierskap allerweë te laat geld, totdat hy tot diens in die Raad van die SARL opgeroep is, eers as Raadslid vanaf 1977, toe as Ondervoorsitter in 1979/80 en uiteindelik as Voorsitter van die Raad in 1980/81.  Dit was in die “goeie ou dae” toe Hoofkantoor nog in Kaapstad gesetel was.

Toekennings.  Dan het die SARL se Jack Twine-toekenning vir besondere verdienstelikheid in 1975 ontvang, erelidmaatskap van die Liga in 1982 en erelidmaatskap van ons Klub in 2001.  Sover vasgestel kan word, is daar slegs een ander amateur in die geskiedenis van Bolandse amateurradio wat erelidmaatskap van die Liga verwerf het, t.w.  J.A. (Alf) van Zyl in 1961 - ‘n groot naam uit die verre verlede.

Veelsydige betrokkenheid.  As ‘n mens Dan de Vries se doen en late as amateur nagaan,  val dit dadelik op dat hy ‘n man was wat op vele terreine sy gewig by ons vereniging ingegooi het -  en heel dikwels word die naam van sy eggenote, Corrie, ook teëgekom.  In die ou dae het hy ‘n leidende rol by takbyeenkomste gespeel,  was hy ‘n medewerker van CQ Boland,  was hy aktief betrokke by verskeie Hamfest-aktiwiteite,  het hy geesdriftig deelgeneem aas die amateur-hoteldinees wat vroeër baie gewild was, het hy sy gewig ingegooi wanneer Tak Boland die Liga-AJV aangebied het en was hy daarop gesteld dat ons geskiedenis bewaar moes word.  In laasgenoemde opsig was hy een van die persone wat hulle jare gelede sterk beywer het vir ‘n eie “museum” waar historiese stukke en gegewens bewaar kon word.

Die D.F. de Vries Mobiele Wisseltrofee.  Hierdie pragtige beker is teen ongeveer 1970 deur Dan aan Tak Boland geskenk.  Dit was nog voor die tyd van 2 meter toe vele amateurs HF-stelle in hul motors gehad het.  Dan se trofee was bedoel vir 40 meter mobiele kompetisies tussen Tak Boland, Tak Kaapstad en die destydse Tak Tygerberg.  Die eerste van hierdie kompetisies is gewen deur Frankie Stayner ZS1DJ, ‘n ander groot figuur uit ons verlede, wat dié dag 59 mobiele kontakte gemaak het.

Twee meter veteraan.   In hierdie opsig het Dan de Vries uitgetroon as een van ons groot leiers wat die deur geopen het vir derduisende herhaler-QSO’s wat tot vandag toe sou volg. Toe die Radioregulasies in 1973 voorsiening gemaak het vir 2 meter  kommunikasie en ‘n nuwe klas ZR-lisensie, het Tak Boland dadelik ‘n Tegniese Komitee onder voorsitterskap van Dan in die lewe geroep om hierdie saak te hanteer.  Huidige Klublede wat ook nou by hierdie aksie betrokke was, was Frans ZS1RF en Hans ZS1WZ.  In April 1974 is ‘n span van agt Bolandse amateurs (waaronder natuurlik ook Dan de Vries) te voet op na die spits van Groenlandberg naby Grabouw om ‘n  2 meter herhaler (sover vasgestel kan word die eerste in die RSA) daarbo staan te maak.  Die frekwensie was 145.700 (later 145.600).

Laat ons in gedagte hou dat die dinge wat ons vandag geniet nie sommer so uit die lug geval het nie.  Daarvoor was en is daar manne met besondere ondernemingsgees nodig  -  manne soos  Dan de Vries ZS1DF.  Ons eer sy gedagtenis.

 

Gerd Schlorf, ZS1ABM:  ‘n HULDEBLYK

Deur Abe, ZS1OZ

Gerd Schlorf se skielike dood op 13 Januarie, op 72-jarige ouderdom, is 'n groot slag vir ons klub. Ons "doyen van pakketradio" is miskien die beste manier om hom te beskrywe want as Gerd se naam genoem word, word dadelik aan hom gedink as BBS-meester.  Ons betuig hiermee ons innige meegevoel met sy eggenote, Toekie, ZR1TUK, en sy kinders. Ons is bly dat ons steeds 'n warme verbintenis met die gesin kan behou. Gerd en Toekie was 'n amateurspan wat min in radiokringe aangetref word.

Gerd was een van Suid-Afrika se mees ervare amateurs. Sover ons weet was hy meer as 50 jaar amateur. Sy wereldrekord vir 'n kontak op 2M tussen Luderitz en Italie staan al vir baie jare.

Gerd was ongeveer die afgelope vyftien jaar aktief betrokke by die bedrywighede van die ou Tak Boland en latere BARK. Hy het die eerste keer in 1991 prominent as radiodeskundige op die voorgrond getree toe hy betrokke geraak het by Suid-Afrika se eerste satelliet, Sunsat, wat by die Universiteit Stellenbosch ontwerp en gebou is. Gerd het die eerste grondstasie vir kommunikasie met die satelliet opgestel, en dit is met sekere modifikasies suksesvol gebruik om met Sunsat te kommunikeer.

Sy BBS wat op 2M, 70cm, en ook 6M gewerk het, het gedien as deurwegstasie vir kommunikasie met die pos-satelliete wat om die aarde gewentel het.  Op die manier kon 'n mens boodskappe stuur aan oa Fanie Schoeman, ZS1VL wat nou in Nieu Zeeland woon.  Sy stasie was bekend vir die doeltreffende manier waarop dit gewerk het.  Hy het dan ook pos aangestuur na 'n paar ander BBSse, in Vishoek, Hermanus, en andere. Toe pakketradio in 1993 sy beslag in Bolandse amateuuradio gekry het, was dit Gerd wat die leiding geneem het met ons doeltreffende BBS, die bekende ZS0STB. Hy het ons BBS-meester gebly tot met sy dood en sy ervaring, tegniese bedrewendheid en toewyding sal nie maklik vervang kan word nie.

Ons klub het deur die jare sy groot eerbied vir Gerd betoon deur middel van verskeie toekennings, bv spesiale toekennings by sosiale byeenkomste in 1996 en 1998 toe Bolandse amateurradio Boland se eerste 50ste bestaansjaar gevier het. Hy is deurentyd gehuldig as een van ons uitstaande klublede. In 1993 het die SARL hom vereer met die Jack Twine toekenning vir uitsonderlike verdienstelikhied - een van slegs 13 Bolandse amateurs wat in hierdie stadium in 'n periode van 50 jaar hierdie prestasie behaal het.

Gerd was 'n beskeie man wat sy werk stilweg op die agtergrond gedoen het - tipies van menige groot figuur. Tog het ons hom by ons sosiale byeenkomste geken as 'n hoflike, joviale man wat die belange van ons klub opreg op die hart gedra het. Dit geld ook vir die vriendelike, lewenslustige Toekie wat ons so goed by ons byeenkomste leer ken het.

 

 

SAKKIE PELSER WAS 'N STEUNPILAAR

Deur Abe ZS1OZ

Ons dink met leedwese en aangename herinneringe terug aan Sakkie Pelser ZS1CG (ook 'n tydlank ZS2CF) wat onlangs op Tulbagh oorlede is.  Sakkie het veral in die jare negentig baie waardevolle werk vir die ou Tak Boland gedoen en tot die einde, toe hy ernstig siek geword het, sy belangstelling in ons Klub bly behou.

Sakkie was 'n amateur in murg en been.  Sy grootste plesier was om aktief betrokke te wees by ons aktiwiteite.  En hy het baie uitgerig!  Uitstaande was sy knap organisering van ons spesiale stasie  ZS1NDF tydens die Nasionale Dias-fees in 1988 op Mosselbaai, waarvoor hy 'n spesiale toekenning ontvang het.  Ons vergeet ook nie die welwillendheidsbesoek aan Bredasdorp deur ons Bestuur wat in 1989 deur Sakkie gereël is en wat toe deur Henry, Rassie en Abe onderneem is.  'n Ander onvergeetlike geleentheid wat Sakkie beplan het was ons stasie ZS1BLS tydens die Bedasdorp Landbouskou in 1990.  Hy was ook verantwoordelik vir die sukses van 'n onvergeetlike AJV en dinee wat ons in 1992 by die Overberg Toetsbaan se ontspanningsterrein te Waenhuiskrans onderneem het.  Byna al die 75 jolige Bolanders het toe sommer daar oornag!  Ook vir hierdie okkasie het Sakkie 'n spesiale toekenning gekry.  Ja, hy was vir ons goud werd.  In dié tyd het ons ook baie sterk gestaan - 145 lede!

Sakkie is in 1992 aangestel as Wes-Kaaplandse Streekdirekteur van Hamnet, maar het nie lank hierna nie vir 'n tydlank na Umtata verhuis.  Daarna het hy hom, tot sy afsterwe, op Tulbagh gevestig.

 

In Memory of malcolm, ZS1LK, Silent Key on 10 August 2004.


 

 

Deur Henry, ZS1AAZ.

 

 

 

The history of the first 50 years of Boland Branch of the SARL and later Boland Amateur Radio Klub was researched and recorded by ZS1OZ and is available on CD.  In the history various amateurs played key roles, amongst them Malcolm McGregor, the "BoereScot".

The first time that ZS1LK's call was mentioned is in a brief mention in a Radio ZS article of April 1954.  At the time he lived in Nieuwoudtville.

He was chairman of Boland from 1971 to 1972, committee member from 1979 to 1980.

His call was mentioned again as one of the persons who had contact with ZS1PR on Gough Island during 1978.  In 1981 he was master of ceremonies at a dinner at a Boland AGM at Villiersdorp.  In 1980 he was appointed as one of the Regional reps to collect articles for CQ Boland, the Boland Branch newsletter.  He lived in the Strand at the time.  In July 1991 when the Western Cape Repeater Group started, donations were received from various people, amongst them ZS1LK.

Malcolm was present at many meetings of BARK, also in 1995 at PhilSusan hall near Worcester where he was heard to remark on the excellent year that Boland had had.

He was a loyal member of Boland Club for many years, at least from 1954 till 2004, fifty years!  We will remember him as a gentleman always

 

Grepe van wat op Geskiedenis CD te vinde is:

CD verkrygbaar vanaf Henry, ZS1AAZ

 

DIE  BOLAND  AMATEUR  RADIO  KLUB

 Skitterende Ster van Luggolf-kommunikasie

 

Deur Abe Basson ZS1OZ

Alles het op 27 Julie 1948 begin.  Op dié dag het sowat dertig radiomanne van hierdie geweste op Stellenbosch vergader en 'n nuwe tak van die Suid-Afrikaanse Radioliga gestig.  So het die baie bekende "Tak Boland" sy beslag gekry totdat dit op 1 Julie 1996 amptelik die Boland Amateur Radio Klub geword het.   

Die Boland Radio Amateur Klub bied  'n uitnemende tuiste vir almal, oud en jonk, wat hul aangetrokke voel tot gespesialiseerde wêreldwye kommunikasie via die betowerende weë van die radiogolf  -  deur middel van die mikrofoon, die Morsekode-sleutel, die rekenaar en die satelliet. 

 

 

DIE TOT STANDKOMING VAN TAK BOLAND VAN DIE SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

In Radio ZS van November 1948 het 'n berig verskyn met die opskrif  "Die Baba Begin Skreeu", geskryf deur Ben Janeke ZS1GG.  Hierdie baba was Tak Stellenbosch, soos dié nuwe tak van die SARL voorlopig genoem is totdat dit ongeveer twee jaar later finaal gedoop is as Tak Boland.

Die presiese geboortedatum van dié tak is Vrydagaand  27 Julie 1948.  'n Tipiese Bolandse wintersaand.  Die stigtingslokaal was in die CSV-gebou op Stellenbosch.

Veral twee persone het in dié tyd die inisiatief geneem, naamlik die welbekende Oom Dok (Dr. S.H. Walters ZS1CH, ‘n tandarts), en die reeds genoemde Ben Janeke.  Oom Dok het die gebeure rondom die stigting van Tak Boland soos volg beskryf…

'n Foto van hierdie eerste komitee het in Radio ZS van Oktober 1948 verskyn.

Benewens bostaande bestuurslede kon die name opgespoor word  van die volgende amateurs wat by die stigtersvergadering as eerste lede van die nuwe tak aangesluit het:  Oom Dok Walters ZS1CH van Ceres, Ben Beukes ZS1CR van Somerset-Wes, Ben Mostert ZS1DS van Beaufort-Wes, Ben Lubbe ZS1GX van Worcester,  Oom Pieta Vercuil ZS1DV van Piketberg, Frikkie Visser ZS1EQ van Piketberg, Ginger Lake ZS1EZ van Somerset-Wes, Boet Franzsen ZS1FG van Stellenbosch, Van van der Westhuizen  ZS1FR van Robertson, Mac McGregor ZS1FX van Calvinia, Jan van Wyk ZS1GD van Worcester, Willem van der Merwe ZS1GU van Swellendam, Duppie du Plessis ZS1GZ van Worcester, Paul Malherbe ZS1JU van Pinelands, Albert Solomon ZS1SW van Somerset-Wes, Joy Franzsen ZS1SA van Stellenbosch, Cornie Brink ZSL1SG van Rawsonville, Frans Byleveld ZSL1SE van Stellenbosch, Joan Walters ZSL1SA van Ceres.

 

DIE  TYDPERK  BEGIN  1949  TOT  EINDE  1950

Bestuurslede

Die eerste bestuur  wat  in 1948 op Stellenbosch gekies is, het diens gedoen tot Augustus 1949.  In September  1949 is die eerste AJV van die nuwe tak ook op Stellenbosch gehou  en die volgende AJV in September 1950 op Worcester.   In die tydperk 1949 - 1950  was daar die volgende bestuurslede:   Voorsitters: Boet Franzsen ZS1FG  (tot Augustus  1950), Hugo Beyers  ZS1JO (vanaf Augustus 1950);  Onder-Voorsitter:  Ginger Lake ZS1EZ;  Sekretaris:  Ben Janeke  ZS1GT  (tot Augustus 1950),   Frans Byleveld  ZSL1SE (vanaf Augustus 1950);  Tesourier:  Frans  Byleveld  ZSL1SE;  Lede:   Evan Davies  ZS1CA;    Ben van Rensburg  ZS1CF;  Ben Lubbe  ZS1GX.

Ons bulletins begin

Die jong tak het hom sommer van die staanspoor af terdeë oor die lug laat geld.  Ons beskik nie oor die datum en inhoud van die heel eerste Bulletin nie, maar weet dat Bulletins vanaf 1948 elke Maandagaand om halfagt op 40m uitgesaai en na 80m en 20m herlei is.   Hierbenewens was daar in dié tyd ook eenkeer per maand op 'n Sondagmiddag om 2 uur 'n spesiale "kuiertjie", waarskynlik op dieselfde frekwensies.  Volgens André Louw ZS1RF het die "seremoniemeester" elke lid op sy beurt ingeroep en was hierdie geselsies altyd baie aangenaam.

Foto geneem op Bredasdorp.

Van links na regs, voor:  Ean Retief, ZS1PR;  Henry Chamberlain, ZS1AAZ;  Tommy Turner, ZS1OK;  Smittie Smith, ZS1ABC; Rassie Erasmus, ZS1YT;  Abe Basson, ZS1OZ.

Tweede ry:  Louis Rosensweig, ZS1OE;  dan drie onbekendes;  Leon Korkie, ZS1MM;  Henk Toxopeus, ZS1ACD;  ?????;  Doepie du Plessis, ZS1HK;   Rikus Erasmus, ZR1AAD; 

Derde ry:  In die middel met die blou hemp, Bernard Wentzel, ZR1ACP,  ???????;  Louis von Mollendorff, ZS1HE;  ???????;  Joe Haarhoff, ZS1AAB

Heel agter:  Ulf Demasius, ZS1ZO

 

Amateurradio in die Boland 50 jaar oud

Ek het nou haas aan die einde gekom van my stuk geskiedskrywing  -  die wel en wee van amateurradio in die Boland oor 50 gebeurtenisvolle en kleurryke jare heen.  Ek voel bevoorreg om insae te kon kry in al die gebeurlikhede, om te kon punt uit ou bronne en mededelings van ou Bolandse gryskoppe (en bleskoppe!),  om die geskiedenis deur die jare stukkie vir stukkie te kon meedeel in ons nuusbriewe, om deel te kon wees van die Bestuur wat aan die spits gestaan het van hierdie mylpaal en om die viering van die 50ste bestaansjaar van hierdie unieke groep Suid-Afrikaanse radio-amateurs te kon meemaak.

Die 50ste bestaansjaar van amateurradio in die Boland is feestelik herdenk by  ons AJV by die Umzingisi Skool naby Rawsonville…

 

Hiervan en Daarvan

Vyf  van ons klublede was vanjaar  reeds  (minstens) vyftig jaar  radio-amateurs.  Hulle is Ben Janeke  ZS1GT,  Frans Byleveld  ZS1RF,  Paul Malherbe  ZS1JU,  Hugo Beyers  ZS1OH en Gerd Schlorf  ZS1ABM.   Van hierdie vyf was Ben, Frans, Paul en Hugo in 1948 stigterslede van  die eerste Bolandse amateurradio vereniging.   

Franzsen, Joy  ZS1SA (1948).   Sy was ‘n stigterslid van Bolandse amateurradio en die LV van Boet Franzsen  ZS1FG wat  gedurende 1949/1950 voorsitter van Tak Boland was.  Sy was ook, sover bekend,  die heel eerste  Kaapse vroulike ZS-amateur  -  ‘n baanbreker in die ware sin van die woord.

Davidtz, Leonie  ZS1AE  (1957).   Sy was ‘n sprankelende Stellenbosse student wat in 1955 verlam is toe sy by Gordonsbaai van ‘n rots af in die sand vasgeduik het.  As getroue Tak Bolander het sy dikwels takvergaderings in haar rystoel bygewoon.

Davidtz, Leonie  ZS1AE  (1957).

 

50  JAAR  SE  SPESIALE  TOEKENNINGS

Amateurradio in die Boland was in die geskiedenis van sy eerste 50 jaar was hier beskryf is, bevoorreg om voordurend persone te hê wat deur hul besondere kwaliteite en  prestasies uitgemunt het.  Hierdie  gewaardeerde  bydraes tot die welsyn  van hul vereniging word weerspieël deur die spesiale toekennings wat hulle deur die jare verwerf het.  Hier volg ‘n kort samevatting van die toekennings  wat in ons rekords aangeteken is.    Ongelukkig is dit so dat  daar nie altyd  goed rekord gehou is nie  -  veral nie gedurende die heel vroeë tydperk  nie  -  maar tog meen ek dat die gegewens wat wel hier weergegee word,  ‘n goeie beeld  bied  van  die  soort amateursake wat in die Boland hoog aangeslaan is en van die amateurs wat op hierdie gebiede gepresteer het.

Webmeester: Deon, ZS1G
Stuur pos aan zs1bak@mailbox.co.za met vrae of kommentaar oor hierdie WebBlad.
Kopiereg © 2004 Boland Amateur Radio Klub
Opgedateer: 30 Junie 2005