CTCSS
Tuis Op English Lidmaatskap

 

CTCSS

Deur Henry Chamberlain, ZS1AAZ

Soos u weet het die Weskaapse Herhalergroep lank gelede besluit dat ons herhalers met CTCSS toegerus moet word om steurings te voorkom.  Onlangs het die SARL ook aanbeveel dat alle herhalers in die land met CTCSS toegerus moet word.

CTCSS staan vir Continuous Tone Code Squelch System.  Dit beteken dat 'n 2 meter sender 'n laefrekwens toon saam met spraak moet uitsaai om 'n herhaler te aktiveer.  Omdat 88,5 Hz so dikwels die standaard frekwens is waarmee radios toegerus word, het ons besluit om hierdie frekwens te kies.  Die SARL het kennis geneem van ons keuse, en die redes daarvoor, en op dieselfde toon besluit.  Dit sal beteken dat as iemand in die land rondreis, sal alle herhalers met dieselfde sender geaktiveer kan word.  Daar kan natuurlik uitsonderings wees as herhalers vir een of ander tegniese rede met 'n ander toon toegerus word.

Moderne stelle sal reeds toegerus wees met CTCSS en dit maak sin dat geen amateur nuwe 2M toerusting sal aanskaf tensy dit met CTCSS toegerus is nie.

Ou toerusting wat nie CTCSS in het nie, moet natuurlik aangepas word.  In die meeste gevalle is dit nie moeilik nie want daar is dikwels genoeg plek in die ouer stelle.  Handradiotjies kan egter 'n probleem wees.

'n Paar jaar gelede was daar 'n stroombaan wat in Practical Wireless gepubliseer was en plaaslike amateurs het begin om hierdie stroombaan in hulle stelle in te bou.  Daar was in sommige gevalle probleme, maar dit kan 'n mens verwag in die begin.

Die PW stroombaan bestaan uit 'n operasionele versterker wat as ossilator opgestel word, en die frekwens van ossillasie is afhanklik van die stabiliteit van twee kapasitore en een weerstand.  As sulke komponente se waardes verander met veranderings in temperatuur, sal die frekwens skuif en dan sal daar probleme wees om 'n herhaler te sneller.  Die ideaal is om 'n frekwens te hê wat kristalbeheer is, en ons weet almal dat kristal ossilators baie stabiel is.

Ek het op die Internet gaan soek vir so 'n stroombaan en afgekom op 'n maatskappy met die naam MX-Com wat so 'n stroombaan vervaardig.  Die plaaslike agente vir MX-Com is Avnet Kopp wat 'n kantoor in Rondebosch in die Kaap het, en hulle hoofkantoor in Johannesburg.  Hulle het toevallig 31 van hierdie stroombane in voorraad gehad in Johannesburg en ek het 'n paar bestel en dit is deur die plaaslike kantoor by my huis afgelewer.  Die koste was so R45 per stroombaan.  Die nommer is FX315P2.

Eers net 'n paar opmerkings.  Dit is 'n geintegreerde stroombaan met 14 pennetjies.  Die aanbevole kragbronspanning is 5V en dit trek so 1,5 mA stroom.  Dit kan 40 verskillende CTCSS frekwense  produseer met 'n sinus golfvorm van 0,775V RMS.  Die frekwense word geselekteer deur vyf pennetjies aan of grond of +5V te verbind.  Die ossillator kan aangeskakel word deur  pen 12 te grond.  Die kristal se frekwens is 1 MHZ.

Om seker te maak dat die kragbronspanning nie 7V oorskry nie, is dit raadsaam om 'n laekrag spanningsreëlaar te gebruik.  'n 78L05 is plaaslik maklik bekombaar.  Daar is 'n koppelkapasitor van die uitset (pen 13) na die potensiometer, R2, en daarna 'n weerstand, R3, om te voorkom dat die gewone modulasie nie deur die potensiometer beïnvloed word nie.  Die waarde hiervan moet eksperimenteel vasgestel word, maar hoe groter, hoe beter.

 

Webmeester: Deon, ZS1G
Stuur pos aan zs1bak@mailbox.co.za met vrae of kommentaar oor hierdie WebBlad.
Kopiereg © 2007 Boland Amateur Radio Klub
Opgedateer: 22 Januarie 2007