Antenna rigting
Tuis Op English Lidmaatskap

 

Antenna rigting aanduiding met ‘n digitale meter

Deur Pieter Jacobs, ZR1AEE

Ek het die probleem opgetel dat my rigting indikator se eenheid bo-op die mas foutief geraak het.  Geen onderdele is beskikbaar nie en moet by die museums gesoek word.

Omdat ek belang stel in meteor sein voortplanting en ook EME het ek gesoek na ‘n akurate oplossing.  Ek het op die internet gaan soek maar almal vra jou kredietkaart nommer.  Die eenhede was ook in Euro en Dollar wat dit nog moeiliker bekombaar gemaak het.

Na vele gesukkel het iemand uit Swede vir my iets uit ‘n artikel gestuur wat hy self met baie sukses gebruik.

Die koste was minimaal en dit is baie akkuraat.  Die eenheid lees in grade en is 1 graad akkuraat.  Die selfde ontwerp kan ook vir elevasie gebruik word.  Dus is dit ideaal vir EME en ook sateliet werk.

Die duurste item was die lineere weerstand wat bo-op die mas kom.  Die res is goedkoop.  Al wat benodig word is:

Ø      1 x 50k verstelbare weerstand (Multidraai tipe wat op ‘n PCBord gemonteer kan word. – R10.00).

Ø      1 x 5k verstelbare weerstand (soos bo. – R10.00)

Ø      1 x 5k verstelbare weerstand (Lineere tipe.  Die is baie duur en het my R86-00 plus BTW gekos).

Ø      7808 spannings reguleerder.

Die 50k en 5k verstelbare weerstande word gebruik vir die kalibrasie onder in die hok.  Die linieere weerstand word bo-op die mas gebruik.  

Die stroombaan het ander komponente ook nodig maar wat nie meer beskikbaar is nie.  Ek het dit gebou en dit werk soos ‘n droom.  Die 5k word gebruik om die 0 grade te stel.  Die 50k weerstand word gebruik om die 360 grade te stel.  Stel dit totdat jy 0.360V op jou digitale meter lees.  Die meter wat ek gebruik is ‘n Fluke.  As jy die antenna weer terugdraai na 0 grade moet jy net weer finaal stel en dan is die eenheid gekalibreer.

Die spanning moet baie stabiel wees.  Ek het ‘n 8Volt reguleerder ingesit want die 220V verander baie by my “shack.” My toevoer is 12V wat na 8V gereguleer word.  ‘n 5V reguleerder sal ook werk.

Ek het net een probleem en dit is dat indien jy oor die 0 grade na die westekant beweeg dan lees dit ‘n negatiewe waarde.  Dit is nie ernstig nie want met ‘n sakrekenaar kan jy dit net van 360 aftrek en jy het die ware aanduiding.  Ek gebruik sommer ‘n gradeboog vir makliker uitwerking.  Die eenheid is vir Europa ontwerp wat altyd suid kyk en dit werk dus agterstevoor by ons.

Deur ‘n 0-100milliampere meter in die plek van die Fluke te gebruik kan elevasie op die selfde prinsiep gelees word.  0mA is 0 grade en 20mA is 20 grade elevasie.  Eenvoudig en simpel. Die 5k word weereens vir 0 grade kalibrasie gebruik en die 50k vir die 90 grade kalibrasie.

Hierdie metode is baie akuraat en dit werk.  Die verhouding tussen jou mas diameter en die weerstand se diameter maak ook nie meer saak nie want 0 grade is 0 grade en 360 grade is 360 grade en tussen in is ook presies reg.  Maklik en goedkoop.

Nou kan jy jou klankkaart interskakel eenheid regkry en ook begin om meteor sein voortplanting te begin en ook EME te werk en ook die tropo en watter modus ook al mag bestaan te verken.

Vir die wat nie ‘n roteerder kan bekostig nie stel ek sommer ‘n hek oopmaak motor voor.  Ek gebruik een op my mas en is baie tevrede daarmee.  Die rem is net nie beskikbaar nie maar daar kan maklik iets geprakseer word om te voorkom dat die wind jou stelsel rondwaai.

 

Webmeester: Deon, ZS1G
Stuur pos aan zs1bak@mailbox.co.za met vrae of kommentaar oor hierdie WebBlad.
Kopiereg © 2007 Boland Amateur Radio Klub
Opgedateer: 22 Januarie 2007